
=====================================================================
Boeklose Renaissance kan nie slaag nie (AV 5:4)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Boeklose Renaissance kan nie slaag nie

Nicol Faasen   bring die vermo om te kan lees en die beskikbaarheid van leesstof in verband met lande se potensiaal om suksesvol te kan 
vernuwe en te kan oorleef te midde van globalisasie.

AFRIKA moet herleef: ekonomies, politiek, kultureel, wetenskaplik. Afrikane moet hulle toekoms bepaal midde-in globalisasie en moontlike 
oorheersing deur "ryk" wreldmagte.

Die woord "Renaissance" word dikwels vir hierdie ideaal gebruik. Hoe gepas so 'n Europese term vir 'n Afrika konsep is, is 'n lastige 
vraag, maar dit moet nie 'n mens se aandag aflei van die werklikheid en die dringendheid van die strewe -- miskien noodkreet -- wat 
Afrikane hiermee weergee nie.

Afrika is groot; die probleme van Afrika lyk onmeetbaar groot. Waarop kan ons, met ons skrapse hulpbronne, 'n Afrika Renaissance fokus om 
'n volhoubare verskil te maak?

Min moontlike fokuspunte lyk so dwingend soos lees- en skryfgeletterdheid. Die tweeling van die magtige globaliseringstendens vandag is die 
verbysterende groei van inligting en inligtingstelsels. Mense in Afrika moet dringend die vermons ontwikkel om die geskrewe taalvorms van 
ons nuwe wreld te verstaan en te gebruik -- in sowel inheemse as internasionale tale.

Dit gaan hier om meer as net lees en skryf op 'n beginnersvlak; uiteindelik dink ons aan hele bevolkings wat kritiese 
inligtingsgeletterdheid binne 'n omvattende geletterdheidskultuur verwerf het. Hierin sal die gedrukte media 'n belangrike rol speel. 
Inligting, ontwikkeling van menslike potensiaal en gedrukte media, veral boeke, pas soos 'n drieblaar bymekaar. Dit het die Organisasie vir 
Eenheid in Afrika reeds in 1986 in sy "Taalaksieplan vir Afrika" uitgespel.

Mondelinge verteltradisies het wel 'n groot rol in Afrika gespeel. Ons kan selfs van "orale geletterdheid" praat. Trouens, uit die hart van 
Afrika hoor 'n mens daar is vandag nog talle plekke waar stories saans om oop vure vertel word. Die inligtingsera -- die historiese 
raamwerk waarbinne Afrika sy herlewing moet bewerkstellig -- eis egter dat 'n mens ten minste lees- en skryfgeletterd en uiteindelik 
inligtingsgeletterd sal wees.

Groot vordering word wel met basiese geletterdheidsopvoeding gemaak. Ongelukkig bedreig ekonomiese en ander omstandighede vandag die bre 
verspreiding en gebruik van gedrukte media. Veral boeke loop 'n ernstige gevaar -- in besonder daardie boeke wat op die belangrikste 
verbruikerspunt toegespits moet wees: Afrika se skole.

Knelvrae kom na vore: Wat was die verband tussen die drukkuns en die Europese Renaissance en is boekdrukkerye van wesenlike belang vir 'n 
herlewing in Afrika? Gaan Afrika 'n boeklose Renaissance tegemoet? Is daar hoop op herlewing as die opvoeding wat boeke adem, ontbreek? 
Waar staan gebruikers van Afrikaans wat dit alles betref?

Terug na bo

Die Renaissance en die drukkuns

'n Mens moet die term Renaissance as naam vir die tydperk rondom die vyftiende en die sestiende eeu in Europa versigtig gebruik. Dit was 'n 
komplekse periode wat nie in alle lande op dieselfde manier en op dieselfde tyd voorgekom het nie. Deels was die Renaissance 'n nalewing 
van die klassieke oudheid -- laat ons dus nie te gou ons neuse optrek vir Afrika se leen van die term nie. Deels was dit die uitdrukking 
van 'n nuwe tydgees en nuwe mens- en wreldbeeld. Die individu en die menslike rede het die kerk in die kollig vervang. Westerse 
wetenskaplike denke en metodes is gesien as die instrumente om menslike vooruitgang te bewerkstellig.

Die uitvinding teen die middel van die vyftiende eeu in Wes-Europa van die tegnologie om met los letters te druk het waarskynlik 'n 
deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van die Renaissance en die verspreiding van die idees van die Humanisme en Modernisme. 
Vandag nog is gedrukte boeke belangrike en duursame bronne vir die skep en deel van kennis en die stoor en verspreiding van inligting.

Natuurlik kan 'n Afrika herlewing nie die Europese Renaissance naboots nie; tog kan 'n mens met veiligheid s dat ten minste die rol van 
die gedrukte media ewe belangrik in albei gaan wees.

Terug na bo

Hoe lyk Afrika omstandighede?

Die mees kritieke uitdaging vir swart leiers vandag is om die bewussyn van die mense van Afrika in die meedonlose 21ste eeu in te trek, 'n 
eeu waarvan die ekonomie deur kennis en inligting oorheers sal word, skryf mnr. Saki Macozoma, besturende direkteur van Transnet, in die 
Financial Mail van 28 Augustus 1998 (p. 20). Dit is die uitdaging; tog is daar, ondanks lewendige en entoesiastiese uitgewersbedrywe op 
sekere plekke in Afrika, talle belemmerings.

Orals in Afrika word die skoolboekmark volgens mnr. O.M. Lawal- Solarin, 'n uitgewer van Nigeri, geknel deur geldtekorte, gebrekkige 
infrastruktuur, 'n tekort aan kinderboekskrywers en -illustreerders, swak verspreidingskanale, onderontwikkelde leesgewoontes en gebrekkige 
bronne vir die ontwikkeling van inheemse tale (Indaba, Zimbabwe Internasionale Boektentoonstelling, Harare, 1 Augustus 1998). Volgens die 
Association for the Development of Education in Africa is daar 'n voortdurende tekort aan gepaste gedrukte leermateriaal (ADEA Newsletter, 
January-March 1998, p.10). Dieselfde bron verwys egter ook na swak onderwysbestuur wat opvoedkundige vooruitgang in Afrika belemmer (p. 2).

Terwyl opvallend baie Afrika lande wegbeweeg van onderwysdepartemente wat as monopolistiese uitgewers optree, is daar volgens mnr. Richard 
Crabbe, voorsitter van die African Publishers Network, dikwels nog nie 'n sterk genoeg inheemse kommersile uitgewerybedryf en 
infrastruktuur om die bevryde boekmark te hanteer nie (Indaba, Zimbabwe Internasionale Boektentoonstelling, Harare, 2 Augustus 1998).

Daar is, jammerlik, ook tekens dat baie Afrika regerings nie gretig is om die ontwikkeling van inheemse tale hoog op hulle agenda te plaas 
nie. Sommige waarnemers s dit is omdat hulle die verspreiding in druk van demokratiese idees vrees! Omdat behoorlike geletterdheid die 
beste in die leerder se huistaal verwerf word, beteken die gebrekkige ontwikkeling van inheemse tale ook gebrekkige geletterdheidsvlakke. 
Die tale van die koloniale era word steeds in die meerderheid gevalle in Afrika as onderwystaal in primre skole gebruik.

Die swak skoolboekmark benvloed weer die algemene boekmark met treurige gevolge vir populre en ernstiger publikasies in inheemse tale. 
Die gebruik van huistaalonderrig in skole moet hand aan hand gaan met die verspreiding van gedrukte inligting in daardie inheemse tale en 
van die ontwikkeling van 'n algemene leesgeletterdheidskultuur. Wat baat dit kinders ontwikkel ho geletterdheidsvlakke in hulle inheemse 
huistale op skool, maar hulle gaan 'n uitheemse en vreemde volwasse geletterdheidswreld binne? Verskeie sprekers het hierdie boodskappe 
duidelik oorgedra tydens die Zimbabwe Internasionale Boektentoonstelling en die "Indaba" wat aan die begin van Augustus 1998 in Harare 
gehou is.

Terug na bo

Hoe belangrik is leesgeletterdheid?

Geletterdheid is vervleg met mensontwikkeling. 'n Renaissance met die omvang waarop Afrika hoop, kan nie plaasvind sonder dat die krag van 
die gedrukte media vir die skep van kennis en die interpretasie en verspreiding van inligting benut word nie. Die organiseerder van die 
Zimbabwe Internasionale Boektentoonstelling het aan my ges dat boeke die sleutel is tot die ontwikkeling van Afrika.

In sy opspraakwekkende boek The Gutenberg Galaxy skryf Marshall McLuhan in die sestigerjare: "With Gutenberg, Europe enters the phase of 
technical progress, in which change itself becomes the archetypal norm of social life."

Dr. Kurt Komarek van die Deutsche Gesellschaft fr Zusammenarbeit skryf in 'n verslag, Mother tongue education in Sub-Saharan countries: 
Conceptual and strategic considerations (1997), daar is geen rede waarom hierdie inherente mag van die gedrukte medium nie ook buite die 
Westerse wreld vir ontwikkeling gebruik kan word nie.

Dr. Komarek s dat geskrewe inligting die meeste impak het, selfs meer as die verspreiding van inligting deur byvoorbeeld die radio of TV.

Arvind Kumar, voormalige direkteur van die Nasionale Boektrust in Indi, skryf in die African Publishing Review (Nov./Dec. 1997) dat, 
ondanks die vordering van die elektroniese media, die gedrukte boek nog ten minste die volgende paar dekades die belangrikste middel vir 
ontspanning, inligting en leer in Afrika sal wees.

Wat gedrukte skoolmateriaal betref, skryf Komarek in sy verslag: "In African circumstances, [suitable learning material in the mother- 
tongue] is the component with the greatest didactic impact and therefore contributes the most to increasing achievement. For the mostly 
inadequately qualified teachers, teaching manuals are not only 'user's instructions' for the new teaching and learning aids: they are at 
the same time the only texts for further professional training."

Ontwikkelingskenners beklemtoon hulle dink veral aan geletterdheid in inheemse tale. Dr. Komarek wys daarop dat 90% van Afrika se bevolking 
slegs 10% van die inligting wat in hulle lande gepubliseer word, kan lees. Die res is in die tale van die voormalige koloniale heersers, 
wat hulle nie kan lees nie.

Wanneer 'n mens leer lees en skryf, verwerf jy nie maar net basiese lees- en skryfvaardighede nie. Lees en skryf is prosesse waartydens 'n 
mens gedurigdeur betekenis skep en probleme oplos -- dit is skeppende en kritiese handelinge. Jy moet strategie en vaardighede ontwikkel 
om sin te maak van nuwe inligting wat in skrif verskyn. Hierdie strategie en vaardighede wat die goeie leser en skrywer ontwikkel, is 
belangrik vir betekenisvolle leer in die hele kurrikulum. Hoe goed die leerder dit in die vroe skooljare verwerf, bepaal verdere sukses of 
mislukking op skool. (John Birtwistle: "Reading recovery -- A problem-solving approach to reading", in: Robert Burden & Marion Williams, 
Thinking through the curriculum, Routledge, London & New York 1998, p. 162.)

Uiteindelik gaan geletterdheid om jou lewensgehalte en menswaardigheid.

Terug na bo

Ontwikkeling van leesgeletterdheid?

In 'n studie gedurende die vroe nentigerjare het die International Association for the Evaluation of Educational Achievement inligting 
oor geletterdheid onder 210 000 leerders en 10 000 opvoeders in 32 onderwysstelsels op al vyf vastelande ingesamel. Die bevindings is in 
1994 onder redaksie van prof. Warwick B. Elley gepubliseer, The IEA Study of Reading Literacy (Pergamon). 'n Paar van die bevindings het 
betrekking op die ontwikkeling van leesgeletterdheid in ons omstandighede.

* Dit lyk asof kinders se leesgeletterdheid bevorder word as hulle uit huise met baie boeke kom. Volgens een ontleding is die 
geletterdheidsvlak van die kind se huis die sterkste aanduider van leesprestasie. Ook het ouers se samewerking met skole om lees te 
bevorder gereeld met ho leesvlakke gepaardgegaan.
* Oor die algemeen het 'n land se vlak van leesgeletterdheid die plaaslike gemeenskap se verwagtings weerspiel.
* Bronne is baie belangrik. Van die onderwysfaktore wat lande met ho leesgeletterdheidsvlakke onderskei het, was die geredelike 
beskikbaarheid van boeke in skole en langer opleiding van opvoeders. Lande wat meer geld vir onderwys beskikbaar stel, behaal beter 
resultate: daar was geen land met 'n lae bruto nasionale produk per capita onder die lande met ho leesvlakke nie.
* In die meeste lande was gereelde lesers ook beter lesers.
* In byna alle lande het kinders met 'n ander huistaal as hulle skooltaal, laer uitslae in die geletterdheidstoetse behaal.
* In die meeste lande het gereelde tv-kykers swakker gevaar. Programme in vreemde tale, maar met onderskrifte in die huistaal, het egter 'n 
positiewe uitwerking op leesvermo gehad.
* Kleiner klasse en kleiner skole het oor die algemeen tot beter uitslae gelei. Daar is egter ook bevind dat groot klasse in skole met 
goeie bronne nie nadelig was nie.
* In lande wat ho leesgeletterdheidsvlakke bereik het, is groter waarde geheg aan die bevordering van leesbegrip en leesbelangstelling as 
aan die ontwikkeling van leesvaardighede; in lande met laer vlakke was die situasie omgekeerd.
* Lees deur onderwysers in hulle eie vrye tyd was 'n goeie diskrimineerder tussen klaskamers met goeie uitslae en di met swak uitslae.

Die volgende belangrike aanbevelings kan uitgelig word:

* Behoorlike befondsing vir bronne is uiters belangrik.
* Ho geletterdheidsvlakke kom in skole voor waar daar 'n sterk geletterdheidstradisie in die gemeenskap is. Nasionale 
geletterdheidsveldtogte moet die belangrikheid van rolmodelle in die gemeenskap beklemtoon.
* Kinders wat laat begin met formele leesonderrig het nie noodwendig 'n agterstand nie.
* Ouers se samewerking is uiters belangrik.
* Moedig lees in vrye tyd buite skoolure en onafhanklike lees in die skool aan.
* Maak klasse kleiner en verbeter onderwysers se opleiding.
* Moedig eerder leesgenot aan as om klem op vaardighede te l ten koste van belangstelling.
* Indien 'n mens hierdie navorsing aanvaar, is dit duidelik dat daar vir Afrika -- ook Suid-Afrika -- 'n reusetaak voorl as ons 
aanvaarbare leesgeletterdheidsvlakke en 'n algemene geletterdheidskultuur wil bereik. Niks anders as 'n gekonsentreerde en gefokusde poging 
om leesgeletterdheid te bevorder sal ons waarskynlik in staat stel om die Afrika oplewing van ons drome te bewerkstellig nie.

Terug na bo

Uitdagings en geleenthede

Bronne bly belangrik vir gehalte-onderwys in die moderne tyd. Regerings op nasionale en plaaslike vlak het die verantwoordelikheid om 
gehalte- onderwys vir alle leerders in 'n land na te streef. Dit sluit in dat hulle bronne sal verskaf soos boeke en ander leesmateriaal -- 
hetsy direk aan skole of indirek deur byvoorbeeld biblioteke binne gemeenskappe. Ook sake-ondernemings kan skole help met bronne, omdat 
geletterde werkers waarde tot ondernemings toevoeg. Uitgewers moet hulle afvra hoe hulle ouers, skole en leerders deur meer bekostigbare 
boeke kan tegemoetkom.

Dit val 'n mens op dat die faktore hierbo wat 'n verskil aan leesgeletterdheidsvlakke kan maak, van so 'n aard is dat mense in hul 
gemeenskappe iets daaraan kan doen. Dit is nie noodsaaklik om vir die regering te wag om sekere dinge te kan doen nie. Skole kn binne 
hulle vermons sorg vir boeke in klaskamers. Ouers kn sorg vir boeke in hulle huise, daaroor gesels, 'n leeskultuur daar skep en self 
rolmodelle van goeie lesers wees. Een van die hoopvolle tekens van herstel in Afrika is die getuienis dat daar al hoe meer gemeenskappe is 
wat op klein skaal plaaslik die inisiatief begin neem.

Binne hierdie algemene raamwerk behoort Afrikaanstaliges met drie verskynsels rekening te hou. Ten eerste het hulle 'n ontwikkelde, moderne 
taal wat nog groei. Skitterende leesmateriaal kan in Afrikaans geskep word en die taal is 'n uiters geskikte medium vir mensontwikkeling. 
Dis 'n voorreg en iets unieks vir 'n groep taalgebruikers van Afrika om 'n inheemse taal van hierdie aard te h.

Wat s hierdie situasie vir Afrikaanssprekendes omtrent hulle moontlike toewyding aan die ideaal van 'n herlewing van Afrika? Proe die 
grond van die hele Afrika vir ons so soet soos die klanke van Afrikaans?

Ten tweede het die Afrikaanse uitgewersbedryf enorme kundigheid en ervaring wat tot die voordeel van ons kontinent gebruik kan word in die 
vind van Afrika oplossings vir Afrika uitdagings. Hierdie kundigheid kan ons deel deur byvoorbeeld ko-publikasies met ander Afrika 
uitgewers en deur deelname aan organisasies soos die African Publishers Network en die werkgroepe van die Association for the Development 
of Education in Africa en die Bellagio Publishing Network.

Ten derde word byna alle Suid-Afrikaanse uitgewers tans ernstig geknou deur verminderde staatsuitgawes aan boeke, veral boeke vir skole en 
biblioteke.

Hoe kan Afrikaanse gemeenskappe hierdie verliese help vergoed? Vir Afrikaans en ander inheemse Afrika tale kan dit uiters ernstige gevolge 
h as voldoende algemene letterkunde nie in hierdie tale uitgegee word nie. Soos dit telkens in die verlede gebeur het, moet ons skrywers 
die vreugdes en bewonhede van hierdie dramatiese, opwindende tyd in ons geskiedenis kan weergee. Wee ons as ons kinders se kinders nie die 
verhale van ons land in hulle eie taal sal kan lees nie omdat ons nie vandag ons skrywers se boeke koop en lees nie.

En hoe kan die ryk skat van Afrikaanse letterkunde -- wat bestaan en wat nog moet kom -- deel wees van Afrika se herlewing?

Kenneth Clark vertel in Civilisation dat, toe die boekdrukkery tydens die Renaissance in Europa uitgevind is, talle boekmakers aanvanklik 
geprobeer het om deur hierdie nuwe tegnologie handgeskrewe dokumente oftewel manuskripte na te maak. Hulle wou met 'n nuwe tegnologie bloot 
ou produkte verbeter. Boeke is selfs op perkament gedruk! Uitgewers het nie verstaan dat hulle met 'n tegnologie van 'n ander aard te doen 
gehad het nie. Hulle kon nie hulle begripsraamwerk verander nie.

Die omstandighede in Suid-Afrika en die moontlikhede van groeiende verbintenisse met die res van Afrika het reeds nuwe raamwerke vir ons 
lewe in Afrika geskep. Ons uitdaging is om die nodige denk- en hartsveranderings te maak om binne die nuwe raamwerke te leef.

Ten minste die volgende paar jaar sal Afrikaanssprekendes byvoorbeeld ervaar dat die raamwerk vir staatsondersteuning van Afrikaans 
verander het. Om soos vroer voort te gaan en te dink dat daar maar altyd genoeg goeie Afrikaanse boeke gratis in ons biblioteke beskikbaar 
sal wees, kan uiteindelik beteken dat ons met 'n boeklose Renaissance tevrede sal moet wees. En dit sal so goed wees -- of so sleg -- soos 
'n gedrukte weergawe van 'n skitterende handgemaakte Middeleeuse manuskrip. Dr. Nicol Faasen   is uitgewer: taalontwikkeling by Tafelberg 
Uitgewers.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av547.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Oktober 1998 /// 'n Taalstroom waaruit almal kan drink (AV 5:4) /// 
'Maak Afrikaans 'n inklusiewe Afrika taal' (AV 5:4) /// 'Met 'n los lit kom jy nie ver nie' (AV 5:4) /// ns Afrikaans vir vandag (AV 5:4) 
/// Oor taalruimte en vennootskappe (AV 5:4) /// ONS LESERS SKRYF (AV 5:4) /// Boeklose Renaissance kan nie slaag nie (AV 5:4) /// Jy kan 
s SKS staan vir So Karoo Soos ... (AV 5:4) /// Afrikaans se veilige hawe elders (AV 5:4) /// Lag of huil oor di musiek? (AV 5:4) /// Di 
volksmusikus kom van ver af (AV 5:4) /// Goeie musiek kook al hoe kwaaier (AV 5:4) /// Die bedreiging kom van binne (AV 5:4) /// 
Intellektuele inhoud ontbreek (AV 5:4) /// Afrikaans het biegkamer nodig (AV 5:4) /// Herinneringe aan 'n Wes-Kaapse winter (AV 5:4) /// 
Nederlandistiek kongresse aan die Kaap (AV 5:4) /// Moet Afrikaans en Nederlands se paaie skei? (AV 5:4) /// Jongste ng raap Pendoring se 
'prestige' op (AV 5:4) /// Afrikaanse reklame val van 'n Engelse perd (AV 5:4) /// Die land van braaivleis, sonskyn en Chevrolet (AV 5:4) 
///

